Nesher Privaatskool © Kopiereg 2015 - Responsive Website Design & SEO by Ashworthweb
NESHER CHRISTUSGESENTREERDE AKADEMIE
….die plek waar mense ARENDSVLERKE kry….
DIE ONTSTAAN VAN NESHER
Die nederige begin van ‘n GROOTPAD
Op ‘n klein dorpie, Dundee in Kwazulu Natal het God Drie-Enig in die harte van twee vriendinne die
begeerte laat ontstaan om vir hulle kinders ‘n Christusgesentreerde skoolopvoeding te gee. Helena Viljoen
en Lientjie Prinsloo het dadelik aan die werk gespring. Hulle oudste twee Kobie Viljoen en Hennie Prinsloo
moes begin 1997 skooltoe en dan moes alles gereed wees. Dit was 1995!
Die Here weet wat ons nodig het, nog voor ons kan kies of kan vra! Helena en Lientjie se beginpunt was
gebed en gouer as wat hulle kon dink het God inligting oor Christenskole deur Radio Kansel voorsien. Baie
besoeke, baie telefoonoproepe, navorsing uit boeke, harde werk en die alles oorheersende leiding van ons
almagtige God het die Christelike skool ICHTHUS tot stand gebring.
Januarie 1997 het die skool begin. ICHTHUS beteken die Seun van God. Die skoolwapen is ‘n eenvoudige
vis. Hierdie teken is deur vervolgde Christene in die Romeinse tyd met hul voete in die grond geteken om
mekaar te identifiseer. Die allesoorheersende doel van hierdie skool is om dissipels van Jesus Christus te
laat ontwikkel in ‘n moderne eeu.
Die skool het begin met 5 dogtertjies en 5 seuntjies en Juffrou Stella Haasbroek as onderwyseres en
hoof. Een van hierdie dogterjies, Jeandri Eicker het ‘n spesiale leerbehoefte gehad. Deur haar het Stella ‘n
besonderse liefde vir remediërende onderrig ontwikkel. Die Here het hierdie kind gebruik om vir Stella
kosbare vaardighede te leer, vir soveel ander wat nog bedien moet word.
Omdat die skool te klein was om as skool geregistreer te word, het ICHTHUS onder die vaandel van
KwasSizabantu skool ‘n Godregerende Sendingstasie geaffilieer. Ichthus se leuse kon dan ook niks anders
as Rom 11:36 wees nie: Uit Hom, deur Hom en tot Hom kom alle dinge, aan Hom die heerlikheid tot in alle
ewigheid. Tans is ICHTHUS ‘n suksesvolle geregistreerde skool van meer as 100 leerlinge vanaf GrRR tot 7.
Alle eer aan God!!!
Die NESHER-saadjie word geplant:
Tydens ‘n opening een Maandagoggend by ICHTHUS deur Ds. Henk Prinsloo het die volgende gebeur.
Hy het sy preek gelewer uit Deuternomium 32: 11, 12. Soos ‘n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies
sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels – die Here alleen het hom gelei en
daar was geen vreemde god by hom nie. Met die aanhoor van hierdie skrif het Stella by God gehoor
om nog ‘n Christenskool te begin. Wanneer, waar en hoe het sy nog glad nie geweet nie. Soos die Here
haar gelei het is ‘n voorlopige “plan” vir die skool neergeskryf vir eendag wanneer dit sou nodig wees.
Getrou aan die skrif waaruit die skool gebore is moes die naam Arend wees. Die Hebreeus vir Arend is
Nesher en met die aanhoor hiervan is die naam gebore. Die leuse kon niks anders wees as Josua
24:24 “Ons sal die Here ons God dien en na Sy stem luister.” By hierdie skool sal dit tot in lengte van
dae gaan oor gehoorsaamheid aan God uit Sy Woord.
In 1999 kry Jaco Haasbroek ‘n nuwe posaanstelling in Delmas. Dit beteken Stella Haasbroek moet haar
pos as onderwyseres by ICHTHUS bedank. Dit was ‘n groot hartseer vir die Haasbroek gesin, want hulle was
so lief vir Dundee en sy mense. As dit nie God se wil is nie, dan wil hulle Dundee nie verlaat nie. Die
volgende skrif het hulle wel oortuig om na Delmas te verhuis. Hand 16:9 “En Paulus het ‘n gesig in die nag
gesien – daar staan ‘n Macedoniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedonië en help ons!” Ook die
skrif in Jeremia 29:11, “Ek weet wat ek vir julle beplan sê die Here: Voorspoed en nie teënspoed nie. Ek wil
julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.”
God se Woord is ‘n lewende Woord en ons moet gehoorsaam.
In Delmas aangekom het Stella Haasbroek tuisskoolonderrig vir haar 4 kinders gegee. Die rede hiervoor is
die leiding van God se Woord wat sy met gehoorsaamheid wil uitvoer. Efesiërs 6:4 “.....maar maak hulle
groot met tug en vermaning soos die Here wil.” Rigters 2:10 “..... en die volgende geslag se mense het nie
die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van Sy groot Dade nie.” Deut 6:7 “en jy moet dit jou kinders
inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”
Stella het ook remediërende onderrig gegee om hul huisgesin se inkomste aan te vul. Met hierdie
remediërende klasse het God ‘n wonderlike plan gehad vir die ontstaan van ‘n Christenskool.
Daar het ‘n hunkering by die kinders ontstaan om in ‘n skool te wees omdat dit op hierdie stadium moeilik
gegaan het met die tuisskool is Leonora terug na ‘n staatskool en Jaco en Hoffman na ‘n kleuterskool. Baie
gou het die geestelike armoede uitgestaan in die kinders se lewe. ‘n Ongelooflike hartseer het weke lank
van Stella besit geneem. Die Here het Sondag na Sondag die dringendheid op die hart gelê vir ‘n ware
opregte Christenskool. ‘n Skool waar kinders elke dag in die elke leerarea Hom sal ontdek uit die
Bybel, leer ken en leer liefkry sodat hulle in die wêreld kan ingaan soos dissipels van Jesus Christus
sal leef en ander sal dissipel, dit maak nie saak in watter beroep hulle gaan staan nie!
Dit het nie nou meer gegaan oor net haar eie 4 kinders nie, maar oor elke kind in die wêreld. Jaco
het hierdie visie van Stella gedeel en haar aangemoedig om die skool te begin. Die finale deurslag het
gekom toe een van haar RO leerlinge, Hendré v.d. Walt met wie sy ‘n besondere band gehad het, ‘n
dringende behoefte ontwikkel het vir sy ontwikkeling as mens en akademiese vordering. Die Here is ons
Verlosser, Redder, Geneesheer, Voorsiener, ons Bouer en Onderhouer. Nesher sal slegs as instrument in
God se hand wees waar ons Hom so sal kan beleef!
Januarie 2001 het Nesher die eerste lewenslig gesien. Ons glo dat hierdie skool ‘n grootpad in baie kinders
se lewens gemaak het tot hier toe - ‘n pad van hoor en doen - en tot God self ons stop gaan ons voort!